Tuesday, December 19, 2006

Geseende Kersfees






Hierdie sal seker ons laaste blog wees voor Kersfees. Ons wens julle almal 'n geseende Kersfees toe, en mag julle kerskouse vol alles wees wat julle harte begeer. Ons sal dalk weer vir oulaas nog 'n bloggie maak voor die jaar se einde, maar laat ek liewers nie nou lee beloftes maak nie.


Hier is sommer so paar "random" fotos:

Eerstens: Anel by die see, Brighton, om presies te wees. Sou lekker gewees het om bietjie son op my wit lyf te kry, maar soos julle sien was dit nie juis 'n dag vir "tan" nie!

Tweedens: Ek het ingeskryf vir 'n "Russiese-fighter-pilot-uit-die-WW2-melee" kursus wat ek deur die pos doen. Hulle het vir my hierdie hoed gestuur solank.

Derdens: Ons kersboom. Dit is 'n regte een, wat beteken dat hy in ons goeie sorg nou waarskynlik aan die einde van sy lewetjie staan.

Vierdens: Ons liggies. Dit weerkaats so mooi teen die vuil skottelgoed!

Vyfdens: Dit is hoe dit lyk in die oggend as ek by die werk aan kom. Mooi, maar koud! (fighter-pilot-hoed kom dan goed te pas)

Groete en geseende kersfees aan al ons duisende bloglesers.

Tot volgende keer.

Monday, December 04, 2006

The jingle: Bells & Soda





Kyk uit vir die hidden track op die nuwe Kersfees cd van Isolasie Hare, due out Desember 2014. Ander treffers op die album sluit in "sokies, sakdoekke, lekker-ruik-sepies en ander teleurstellings in jou kerskous" en ook "Roedolf, hoekom die lang gesig?".

Anyway, die res is 'n verrassing, so ek wil nie te veel weg gee nie (al is dit 'n Kersfees album).

Gepraat van Kersfees: Tony en die feeskomitee hier het liggies in die dorp opgesit, tog te mooi. Maar wag, moennie net my woord vat nie, kyk self!

O ja, ek het op hierdie nuttige item afgekom in die winkels: 'n "musical cakeknife". Dit het vier knoppies op die hef wat 'n gepaste liedjie by kersfees, nuwejaar, troues en verjaarsdae kan speel. Hoeveel keer het julle nie al koek geskep, en dan soek 'n mens net ietsie spesiaals om die regte atmosfeer te skep nie?!

Sunday, November 19, 2006

Twickenham





Swing low sweet chariot...en toe verloor ons! Ek en Anel het darem tussendeur al die Engelse singery probeer skree vir die bokke (bietjie soos poep against thunder). Ons was natuurlik die enigste mense in ons blok wat opgestaan het vir die sing van Nkosi Sikelel iafrika. Ons het uit volle bors weggetrek, bietjie terug gesak in die middel, en weer momentum gekry uit die bloute van ons hemel. Ons het ook ons droewors en biltong met niemand gedeel nie.

Friday, October 27, 2006

nat

Om vir busse te wag is nie lekker nie.
Om in die reen te staan is nie lekker nie.
Om in die reen te staan en wag vir 'n bus is snaaks genoeg ook nie lekker nie.

Sunday, October 22, 2006

rugby en kuns





Bennie (my broer) was verlede naweek in London, en het bietjie by ons gekuier. Dit was ons eerste gas om te onthaal en ons het spesiaal breekware by Ikea gekoop ter voorbereiding van die geleentheid (mens soek ook enige verskoning om Ikea toe te gaan).

Ons het Saterdagmiddag die rugby in die Bok Bar in Covent Garden gaan kyk. Wat 'n teleurstelling! Om 100 minute lank te kyk en dan wen niemand nie. Omtrent die enigste positiewe punte was die droewors en die feit dat die blou bulle nie gewen het nie.

Daarna bietjie rondgestap in die stad en toe gaan eet by 'n plekkie wat se naam ek nie kan onthou nie, en om die waarheid te se, die kos was ook nie eintlik juis "memorable" nie.

Sondagoggend was ons na die Tate modern toe. Dit is 'n vreeslike lelike gebou (dit was 'n ou krag stasie of iets) met modern art binne in. Baie interessante en lawwe kuns binne in. Mens kan jouself nogal verloor daar binne, en die helfte van die tyd spandeer jy om te debatteer of iets kuns is of nie. Is 'n geraamde doek (canvas) met 'n skeur in, kuns of nie? Dat dit baie interessant is en mens bietjie aan die dink en praat kry oor kuns, is nie te betwyfel nie.

Anyway, na die Tate was dit tyd (hehehe, ek weet julle het gewag vir daai een) vir Bennie om huis toe te gaan. Ons het sy tas met maskingtape toegedraai (hulle het die zip afgebreek by die lughawe om te kyk of hy nie biltong of Patricia Lewis cd's insmokkel nie), en toe het ons dit in 'n blou plastiek-seil Ikea sak toegedraai, weer met maskingtape bo oor. Die resultaat was dat hy soos 'n baie gesofistikeerde vrugtesmous gelyk het, met laptop en al.

Mooi loop tot volgende keer.

Monday, September 25, 2006

The rain in Spain falls mainly in London

Ek het vandag weer twee waardevolle lewenslesse geleer en gevoel ek sal my nuutgevonde wysheid met julle deel.

Les 1: As dit nie NOU reen in London nie, beteken dit nie dat dit nie NET NOU gaan reen nie, inteendeel dit beteken juis dat die kans goed is dat dit net nou gaan reen. Reen is ook nie altyd hierdie "drizzle - singing-in-the-rain" tipe reen nie. Partykeer, soos vandag, is dit vet emmers vol reen wat sambrele opeet vir breakfast. As dit so reen is sambrele eintlik bloot van akademiese belang. Jy gaan ewe nat anderkant uitkom met of sonder een, jy gaan dalk net minder stupid lyk met een.

Les 2: Moet nooit dink dat iets nie erger kan raak as wat dit is nie. Dit kan, en as jy my geluk het, sal dit. So stap ek in die reen en wonder of ek nie vir sambreel moet platslaan, wat my spoed sal breek, en hardloop tot by die huis nie, toe 'n pragtige rooi bus verby my ry, deur 'n plas water en die water mooi verplaas tot reg bo op my. Alles in 'n oogwink. Sambrele help dan f... niks nie.
'n Paar sekondere lesse wat ek toe leer sommer so op die koop toe, is bv, mens kan nie hardloop met 'n nat jean nie, as jy lyk soos 'n nat hond laat 'n sambreel jou nie minder stupid lyk nie en, afstande is verder in die reen.

Tot volgende keer.

Wednesday, September 20, 2006

Tuesday, September 19, 2006

Daar is iets in die water...






'n Mens stap baie keer in London rond en verwonder jou aan die hoeveelheid mense wat net totaal en al van hulle trollies af is. Ons het bietjie hieroor getob en gespekuleer dat dit dalk iets in die water is wat die mense aantas. Ons het besluit om nadere ondersoek in te stel. Ons is London Aquarium toe om presies te sien wat in die water is.

Op pad Aquarium toe het ons natuurlik die nudiste op die oewer van die Teems aangetref. Daar was ook allerhande mense met kostuums en ballone en goed. Waar het al die mense vandaan ontsnap?

Die Aquarium het natuurlik ons vermoedens bevestig en ons loop nou ligvoet vir die water hier, en drink eerder bier.

Friday, September 01, 2006

Surrey Quays



Net om vir julle te wys waar ons rondloop in die aande terwyl julle 7 de laan en Egoli kyk. Daar loop nie baie ander mense dan daar rond nie, want hulle kyk seker ook 7 de laan.

Dis canary wharf in die agtergrond (die lang geboue). Dis waar die lanies bly. Hulle het die stuk water tussen ons en hulle gesit sodat ons nie daar kan uitkom nie. Ek dink hulle sal ons met pyl en boog aanval as ons probeer deur swem.

Saturday, August 12, 2006

Retail Therapy






Ons het vandag ons toeris uniforms (jeans en K-way baadjies) aangetrek en die kommersiele binnekringe van London ingevaar. Ons misie was duidelik en eenvoudig: Verken Hamleys, Liberty en Harrods, en moet NIKS koop nie.

Eerste stop was Starbucks. Mens kan nie speelgoedwinkels aandurf op 'n lee maag nie. Twee koppies koffie en twee muffins. On to more important stuff.

Hamleys: 5 vloere vol speelgoed. Alles wat jy kan imagine, en nog 'n paar ander goed ook, soos 'n Barbie wat op 'n ponie verby jou galop in 'n rak vas. Daar is selfs 'n teddiebeer fabriek waar jy jou eie custom made teddie kan kry. Jy kan selfs vir hom 'n hartklop en 'n stem gee.

Liberty: Dis lekker, want dis duur. Ook vyf vloere in 'n pragtige ou victoriaanse (dink ek) gebou met alles van klere tot toasters. Daar is selfs 'n pool tafel in die mansklere afdeling, net as dekor, tussen die Vivian Westwoods en Ralph Laurens. Ek het 'n hoed aangepas van £135, maar hy het ongelukkig net nie lekker gesit nie.

Harrods: Jy moet eers deur die anti-fur protes buite die deur veg om in te kom, maar dan is dit alles die moeite werd. Die epitome van retail. Die matte in die plek lyk so smart, net om oor dit te stap voel soos 'n achievement. Die hoogtepunt was verseker die kos afdeling. Dit laat Woolies soos die soos die griek se kafee op die hoek lyk. Niks word net op 'n rak gepak of in 'n yskas gesit nie, nee meneer, dit word uitgestal. Hulle kam selfs die geelperskes se hare.

Raait kom ons kyk die prentjies (van bo na onder):

Anel speel Lego by Hamleys.
Stapel en Lego robot pose vir die foto. Stapel is die een links.
Oesters by Harrods.
Garnaal uitstalling by Harrods.
Pool tafel by Liberty.

Mission completed.

Tuesday, August 01, 2006

Greenwich






As bote, horlosies of kos jou ding is, dan gaan jy gek wees oor Greenwich. Dit is maar 'n klipgooi van ons af, het ons uitgevind na die tyd, nadat ons die trein gevat en halfpad om London gery het. Dit is letterlik stap-afstand van ons af, as mens net anderkant toe stap. Nou weet ons. Dit is 'n pragtige "village-like" plekkie in die hartjie van London. Anel het haarself verloor tussen al die kos-stalletjies, met allerhande goed soos Italiaanse kase, en olywe en vleisighede (selfs boerewors). Enige foodie se droom. Dan is daar natuurlik die museums en die park van waar mens kan uitkyk oor London-stad. Baie mooi plekkie en 'n lekker dag-uitstappie.

Ons blyplekkie II...(the sequel)






Hallo, alweer ek. As satilietfotos nie jou ding is nie, hier is nog fotos van ons woonstellietjie van nader af. Photography & Styling courtesy of Anel. Net om julle 'n bietjie van 'n behind-the-scenes te gee. Styling het die volgende behels: As daar 'n foto geneem word van die kombuis dan sit ons eers al die vuil skottelgoed en lee coke bottels in die sitkamer.

Tot volgende keer, baai.

Monday, July 31, 2006

ons blyplekkie...

Jammer vir die lang stilswye. Ons het nie internet konneksie gehad nie, maar nou loop hy weer klopdisselboom! Net om vir julle te laat weet waar ons nou bly.

51°29'26.02"N, 0° 2'32.89"W


Tik dit net so in op Google Earth, waar dit vra "Fly to", dan kom loer julle in vir 'n koffie.

Vir die dieper delwers onder ons: Let op dat dit 0° Wes is, m.a.w. baie naby aan die Greenwich lyn.

Dis al vir eers.

Sunday, July 02, 2006

Frank Sinatra by hamstead heath





...amper soos Kirstenbosch konserte. Beautiful setting. Kyk self.

Monday, June 26, 2006

Bootrit op die teems




Saterdagaand het ons bietjie op 'n cruise gegaan op die Teems. Dit is 'n blykbaar 'n jaarlikse ding wat die Saffers hier reel. Lekker Kurt Darren wat klop in die agterkop terwyl jy aan jou R40'se biertjie suig. (Ironies genoeg was Kurt Darren een van die redes hoekom ek die land verlaat het). Anyway, lekker gewees om bietjie saam met die boere te kuier.

Sunday, June 11, 2006

Hyde Park bbq





Anel het vandag verjaar. Ons was ook Hyde Park toe om bietjie die London son in te neem. Dit was baie warm en die hele London het met hulle wit lywe op die parke toegesak. Anyway, ons het saam met die bure (twee Pole) bietjie gaan bbq in die park. Hier is die bewyse.